Die meeste van ons het ietwat van ’n “love/hate”-verhouding met kos. Ons is lief daarvoor om te eet, maar nie so mal oor die impak wat dit op ons love handles het nie. Ons wil gesond eet, maar is nie altyd lus vir die moeite wat ons dink dit gaan verg nie.
Die voedselkonsultant en ’n aanbieder van Tussen Ons Medies, Heleen Meyer (49) van Pinelands in die Kaap, het ’n passie daarvoor om ander te inspireer en te leer oor die eenvoud van gesonde kos. As werkende ma van twee (15 en 18) wat omgee oor haar familie se gesondheid is Heleen se motto “moderation and variation”.
Sy vertel ’n mens kan lekker en gesond eet, sonder om jou bank te beroof of ure voor die kospotte te staan. Haar reis met kos het reeds in haar kinderjare begin. “Ek was altyd lief vir kosmaak, maar het nooit as kind gedink ek sal dit as my beroep doen nie. Ek het maar net nog altyd gehou van lekker eet,” vertel sy.