As dit by kwessies “down under” kom, is ons dikwels skaam en selfbewus om daaroor te praat. Maar kenners sê jy moet juis daaroor met jou partner en dokter gesels. Dit kan jou verhouding versterk, en ook vir jou dokter ’n prentjie skets van jou algehele gesondheid.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) strek seksuele gesondheid veel verder as seksueel oordraagbare infeksies (SOI), veilige seks en seksuele disfunksie.
Die WGO definieer seksuele gesondheid as ’n toestand van fisieke, emosionele en geestelike welstand in verhouding tot jou seksualiteit. Dr. Cathelijn Zeijlemaker, mediese direkteur by Netcare Medicross, sê, “Seksualiteit is deel van menswees. Jy bereik seksuele gesondheid deur gesonde verhoudings, beplande swangerskappe en die voorkoming van siektes.”