Dis ’n ware Aspoestertjie-verhaal – van ’n skool op die Kaapse Vlakte wat twaalf jaar gelede die etiket van “disfunksioneel” gedra het, maar deesdae ’n baken van hoop in ’n arm gemeenskap is. By West End Primêr in Lentegeur, Mitchells Plain, word die kinders van skoolfooie kwytgeskeld weens die gemeenskap se swak sosio-ekonomiese omstandighede.
Maar danksy ’n hoof met visie en onderwysers wat veel meer as net die nodige doen, is dit in 2022 gekies as een van die toptienskole ter wêreld wat betref die oorkoming van moeilike en uitdagende omstandighede. Dis geen klein prestasie nie.
Meer as 300 000 skole het ingeskryf vir hierdie nuwe kompetisie, wat deur T4 Education in samewerking met Accenture en American Express aangebied word en die beste skole ter wêreld in vyf verskillende kategorieë aanwys. West End Primêr het sy deure in 1982 oopgemaak as die 22ste van 85 skole in Mitchells Plain.