Toe die gewilde kykNET-sepie Suidooster destyds begin het, was daar vroeg al gefluister dat Jill Levenberg, wat die rol van Mymoena Samsodien vertolk, ’n aktrise is om dop te hou.
Niemand sou egter toe al ten volle kon begryp watter impak hierdie vrou nie net deur haar werk sou hê nie, maar ook deur wie sy is as vrou en ook dít waarvoor sy staan. Toe Kuier sewe jaar gelede vier van dié sepie se aktrises op ons voorblad gehad het, was Jill (44), een van hulle.
Suidooster was egter meer as net nóg ’n sepie en Kuier was nog altyd meer as net ’n tydskrif. Dit gaan oor gemeenskap, oor gedeelde trauma, die vermoë om te lag in tye wanneer dit swaar gaan; om op te staan wanneer die lewe jou wil plat druk, maar bowenal om altyd te strewe na meer en beter – wat dit ookal vir jou mag beteken.