Tienerliefde laat baie ouers angstig voel. Dit is nie maklik om te dink jou kind wat nou die dag nog haar eerste tree gegee het, hou nou iemand anders se hand vas in die fliek nie.
En dan kom die heartbreak. Jy weet hoe die paadjie gaan loop. Kort voor lank is daar weer ’n nuwe liefde op die horison en lyk dinge weer sonnig. Maar tot die pyn bedaar, moet jy haar help om daardeur te navigate. Hoe help jy jou kind om deur die seer te kom?
Meredith Goodman (43) van Kimberley in die Noord-Kaap onthou haar eerste liefde en heartbreak. “Die outjie en ek was albei veertien gewees. Die aand het ons ’n sokkie by die skool gehad en hy wou nie soos gewoonlik met my slow dance nie. Dié aand het hy vir my gesê hy hou eintlik van iemand anders en ons het uitgemaak. Ek het vir twee dae aaneen gehuil soos ’n baba. My ma het bly sê dis oukei, dit sal oorwaai, ek moet maar net vasbyt. My pa het nie eintlik enigiets gesê nie. My boetie wat toe tien was, het my geterg. Dit was aaklig.”