Kom nou, liefiekind, moenie moeilik wees nie. Hou jou masker op anders gaan die kwaai oom jou uit die winkel sit,” vermaan die vrou voor my haar dogtertjie. Die vrees wat op haar gesiggie vorm aanneem, laat my ontsteld. Watter ma wil haar kind bangmaak? Het sy dit bedoel?
Die vrou se onkunde laat my aan my situasie met my drie broers dink. Ek weet nie hoe om ’n ma te wees nie. Al wat ek nou weet, is dat ek my broers moet help met hul skoolwerk en moet voed. Ek weet nie hoe om betekenisvol vir hulle te wees nie.
As enigiemand ’n handleiding nodig het, dan is dit ek. “Jenna, bring vir ons lekkers saam asseblief,” was Luciano, die jongste, se versoek.