Ons almal ken daardie mense vir wie Lady Luck aanmekaar glimlag. Mense wat gelukskoot ná geluk-skoot tref. Dit is iemand wat gereeld geld op die onwaarskynlikste plekke optel terwyl ander blindelings daar verbyloop, daardie plain jong vrou wat altyd die gewildste ouens date en mense wat tot drie keer die Lotto of jackpot wen.
Wat is hierdie gelukkige mense se geheim en hoe kan ek en jy ons lot verander om ook meer “good luck” in die lewe te kry? Geluk beïnvloed die lewensvreugde van individuele mense, maar tog ook die sukses van ’n gemeenskap, lande en die wêreld. Baie van die vooruitgang in moderne wetenskap en tegnologie het gebeur as gevolg van uitvindings wat deur ’n gelukskoot gebeur het.
Byvoorbeeld die ontdekking van penisillien wat vandag algemeen in antibiotika gebruik word en die lewensverwagting van mense verbeter het. Navorsing toon 64% van die bevolking identifiseer hulself as konstant gelukkig óf ongelukkig. Mense wat hulself as gelukkig beskou, meen ook dat hul geluk nie net in een area van hul lewens is nie, maar verskeie lewensareas raak.