Wanneer ’n man, veral ’n getroude een soos ek, opdrag kry om iets oor die verskille tussen mans en vroue te skryf, is hy onmiddellik senuweeagtig. Selfs die dapperes onder ons sal erken dat ek op gevaarlike terrein beweeg. Dit was Alexander Pope wat by geleentheid geskryf het “fools rush in where angels fear to tread” of in suiwer Afrikaans vertaal: “Is jy bebliksem in jou kop?”
Ek dink nie hy het oor vroue geskryf nie, maar hy kon net sowel, want hierdie is klipperige paaie, sou enigeen verkies om hierop te loop. Vandag is ek bereid om namens mans oral my kop in ’n byenes te steek en die gevolge van my dade te dra. Sou ek ongeskonde deur hierdie dal van doodskaduwee kom, skuld elke man wat hier lees my ’n bier.
Of ’n glas Oros, wat ookal jou sak pas. Ek sal hierdie doodsveragtende taak begin deur die volgende uiters gevaarlike woorde te uiter. Vroumense moet relax!