Sy is net 17 jaar oud, maar Paxton Fielies het talle Suid-Afrikaners, jonk en oud, se harte gesteel met haar delikate, maar sterk stem op die 13de seisoen van IdolsSA.
Teen druktyd was dié fyn meisie van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, die enigste oorblywende Kapenaar in die kompetisie en baie hoop nog sy gaan vanjaar die kroon wen.
Toe ons haar vir die eerste keer in Julie gesien het, het baie kykers en die beoordelaars reeds geweet dié meisie het iets spesiaals omtrent haar. Haar oudisie en look was eenvoudig en sy het haar stem al die praatwerk laat doen. Sedertdien het sy ’n make-over gehad wat haar soos ’n regte popster laat lyk!