Soos ’n wind wat jou voete onder jou uitruk . . . Dít is die gevoel wat ’n mens kry wanneer die Petersen-sibbe, Jawaahier (36), Aeesha (33), Ashur (29) en Fatiema (28), en hul ma, Madeegha Anders (60), enige ruimte betree.
Hulle het ’n warm, borrelende energie wat jy nie kan ignoreer nie en ja, wat jou, as buitestander half onkant betrap. Maar op ’n goeie manier. Madeegha het ’n stille elegansie en ’n statigheid aan haar fyn postuur, terwyl die Petersen-kinders almal uiters aantreklike mense is – die gene van hul ma en ontslape pa, die musieklegende Taliep Petersen, onmiskenbaar daar in hul donker hare, opvallende, ondeunde bruin oë en die monde wat graag lag, glimlag en terg.
Dis egter wanneer ’n mens met elkeen sit en gesels dat jy besef die stories wat ons tot dusver oor hierdie familie in die media gelees het, is nie eens ’n fraksie van wat hulle agter toe deure deurgemaak het nie.