Die afgelope twee jaar het dinge in baie huishoudings maar broekskeur gegaan ná werksverliese en stygende brandstof- en kospryse. Die rieme word reeds dun gesny om net die basics te kan bekostig en petrol in die kar te kan gooi.
Nou lyk die res van die jaar letterlik nag. Alle pryse – van kos, lyfseep, kookolie, klere tot brandstof het die hoogte in geskiet ná verskeie wêreldgebeure wat pryse negatief beïnvloed. Julie is boonop die maand waarin die jaarlikse elektrisiteitsprysverhogings intree, en ’n styging in openbare vervoerkostes word verwag.
Asof dit nie genoeg slegte nuus is nie, het loadshedding ook weer met mening ingeskop en dit beteken net slegte nuus vir die ekonomie. Waldo Krugell, professor in ekono- mie by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, verduidelik dat kospryse styg omdat die vraag na voedselkommoditeite groter is as die aanbod.