Sy is ’n skoonheid wat jou onmiddellik regop laat sit en jou oë vasgenael hou op haar. ’n Vrou wat nie net Suid-Afrika nie, maar die hele wêreld, aan haar voete het.
Dít is in wie die beeldskone Zozibini Tunzi (28), voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Heelal, voor ons oë in ontpop het. En watter belewenis en voorreg is dit nie om te sien hoe hierdie jong vrou haar plek opeis as ’n jong ikoon in haar eie reg nie . . .
Wanneer Zozibini haar mond oopmaak en begin praat, kan jy nie anders as om te luister nie. En wanneer sy glimlag, glimlag ons saam, want sy is ons trots. Die een wat die pad ooptrap vir ontelbare meisies wat hulself nooit as mooi beskou het nie. Sy moedig meisies en jong vroue regoor die wêreld aan om hul plek in die samelewing vol te staan en hul space te claim.