Pieter Fourie, skepper van tydlose dramas soos Faan se trein, Die joiner, Ek, Anna van Wyk en Die koggelaar, is Sondagaand in sy huis op Onrusrivier naby Hermanus oorlede. Hy was 81.
Maagkanker is vroeër vandeesmaand by hom gediagnoseer.
Die Hertzogprys-bekroonde dramaturg was die mees gepubliseerde en bekroonde dramaturg tot nog toe in Afrikaans. Faan se trein was steeds in 2014, toe dit as rolprent met Willie Esterhuizen in die hoofrol herleef het, gewild onder gehore. Koos Roets was die regisseur.