Afrikaanse lesers kan dié winter hul akute afsonderingsangs met ’n ruimhartige aanbod fiksie-doepa verlig.
Veronika besluit om te sterf is Kobus Geldenhuys se vertaling van dié “poëtiese roman oor verlossing”, wat in 1998 uit die pen van die Brasiliaanse publikasiefenomeen Paulo Coelho verskyn het. Hierin besluit die mooie 24-jarige Sloween Veronika, wat alles het wat sy kan begeer maar nogtans diep ongelukkig is, om haar lewe te beëindig met ’n oordosis slaappille. Maar sy ontwaak in ’n hospitaal, waar sy uitvind haar hart is onherstelbaar beskadig en dat sy slegs enkele dae oor het om te leef. Coelho se roerende, besielende verhaal volg Veronika deur hierdie intense tyd terwyl sy haar idees oor die lewe begin bevraagteken. Dit verskyn volgende week. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R225.
Daniel Hugo se vertaling van Die verdriet van België gee Afrikaanse lesers toegang tot Hugo Claus se belangrikste boek en een van die hoogtepunte van die 20ste-eeuse Nederlandstalige letterkunde. Dié komplekse en meesleurende roman, wat in 1983 verskyn het, is ’n knewel van meer as 700 bladsye en omvat die historiese krisistydperk van 1939 tot 1947, waarin verwarring, hunkering en bedrog die kleurryke jeugjare vorm van Louis Seynaeve, ’n 11-jarige wie se lewe deur nonne regeer word by ’n Katolieke kosskool. Dit verskyn volgende week. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R395.