Hoewel hy vanuit ’n politieke perspektief nie heelhuids saamstem met al die gevolgtrekkings wat Johan Fourie in ‘Skatryk’ maak nie, bied die skrywer se insigte inderdaad ’n besonderse blik op ons leefwêreld, skryf Johann Kriegler.
'Skatryk: Waarom ons beter leef as ons voorsate' deur Johan Fourie. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R340.
Blykens die lokgrepe op die voor- en agterplat het ons hier met ’n formidabele boek te make. J.P. Landman sê dis een van die indrukwekkendstes wat hy nog gelees het; Waldimar Pelser takseer die skrywer as sowel interessant as belangrik; die uitgewer wil hê dis ’n vernuwende Afrika-perspektief deur ’n internasionaal gerekende professor in ekonomie en ook ’n gewilde rubriekskrywer vir Rapport.