In The BEE Billionaires fokus Chris Bishop op staatsoptrede wat ’n vlaag swart Suid-Afrikaanse miljardêrs opgetower het, maar kom tot die slotsom dat volharding met SEB in sy huidige gedaante die land oneindige skade gaan berokken, skryf Johann Kriegler.
'The BEE Billionaires: Redressing the imbalances of the past, or creating new ones?' deur Chris Bishop. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R260.
As daar nou ’n drieling letters is wat lesers van hierdie koerant herken – en wat hulle terstond die duiwel in jaag – is dit BEE, of SEB. Vir die meeste is dit seker opvallend en eienaardig hoe ons agteruitboer, al wag daar deesdae agter feitlik elke bos ’n blinknuwe miljoenêr. Dié fenomeen het al heelwat openbare aandag geniet en is meermale op hierdie einste boekeblad bespreek: Sien byvoorbeeld Ebbe Dommisse se Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate (2021) en Pieter du Toit se The Stellenbosch Mafia (2019) oor skatryk Afrikaners, en, nader aan ons huidige gesprek, die einste Du Toit se The ANC Billionaires: Big Capital’s Gambit and the Rise of the Few einde verlede jaar.