Zarine Roodt het die Camino Portugués-staproete reeds drie keer afgelê; een keer te voet, die tweede keer terwyl sy daaroor geskryf het, en die derde keer was die sielkundige reis na binne, die reis wat begin wanneer die Camino eindig.
Roodt, ’n skrywer, Jungiaanse volgeling en retraite-aanbieder van Bloemfontein, sê dié uitdaging was haar 60ste verjaardaggeskenk aan haarself. Maar sy het vir geen enkele oomblik gedink dit sal “loshande die moeilikste ding wees” wat sy in haar hele lewe al aangepak het nie.
Om ’n boek oor die avontuur te skryf was glad nie in haar gedagtes nie, maar ná die uitsonderlike ervaring en bowenal die psigiese gewaarwordinge, moes sy dit eenvoudig dokumenteer. Die resultaat is ’n Dagreis ver, wat nou in boekwinkels te kry is.