Die sjarme van die ‘fotoverhale’ in Tom Dreyer se Kodachrome lê veral in die ontwapenende manier waarop die verteller ’n mens insae gee in sy vrese, drome, berou en nimmereindigende hoop op ’n verrukking wat hom – al is dit net vir ’n oomblik – sal laat ontglip aan die realiteit, skryf Louise Viljoen.
Kodachrome: 90 flitse deur Tom Dreyer. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R275.
Uit Tom Dreyer se pen het ons al die romans Erdvarkfontein (1998), Stinkafrikaners (2000), Equatoria (2006) en Dorado (2016) gekry, ook die kortverhaalbundel Polaroid (2007) tesame met gedigte in verskillende versamelbundels. Sy jongste publikasie is Kodachrome, ’n versameling tekste waarvan sommige reeds vantevore in koerante en tydskrifte verskyn het.