Haar generasie is die eerste generasie wat daaraan gewoond moet raak om oud te word, moontlik baie oud. Oudword en die hele proses van liggaamlike en geestelike aftakeling is ’n uitmergelende proses wat bemeester moet word.
So sê die 64-jarige Amerikaanse skrywer Lionel Shriver in die praatjie “The Nerve Toucher”, een van die stampvol praatjies waarmee die Franschhoekse Letterkundefees op die skilderagtige Bolandse dorp vroeg Vrydagoggend weggespring het. Shriver is veral bekend om die sielkundige riller We Need to Talk About Kevin oor ’n 15-jarige seun wat verantwoordelik was vir ’n skoleslagting. Haar skryfloopbaan strek oor meer as drie dekades waarin sy vele aktuele en dikwels omstrede onderwerpe aan die lig uitgedop en ondersoek het. Sy is meermale bekroon. Sy is ook ’n joernalis en visuele kunstenaar.
Haar gesprek met Karina M. Szczurek in die NG Kerk op die dorp, was wydlopend, openhartig en soos die titel voorspel, na aan die nerf. Dit het merendeels oor haar jongste boek, Should We Stay Or Should We Go, gehandel. Onderwerpe soos die oorlog in die Oekraïne, die groot stilte – apatie of dalk ondersteuning vir Rusland – uit Afrika oor die oorlog, hoe die oorlog Europa verenig het ná Brexit, haar ondersteuning van selfdoodbystand, om kinders in die wêreld te bring of nie, die beperkinge van identiteitspolitiek, Brexit (waarvan die Londenaar ’n voorstander is en onder skoot was), is ook kortliks bespreek. Shriver is so droog en satiries in haar antwoorde soos die stem in haar romans.