Die uitgewer Minimal Press nooi skrywers, literatore, natuurwetenskaplikes, historici en joernaliste om ’n bydrae te lewer tot ’n huldigingsbundel wat Eugène N. Marais se lewe en werk in oënskou sal neem.
Volgens Zalman S. Davis, eienaar van Minimal Press, is Marais “een van die veelsydigste en ook die vroegste Afrikaansskrywers” en het sy prosa en poësie deur die jare heen geliefd gebly. Davis het daarom gedink dit is “gepas” om volgende jaar op 29 Maart ’n huldigingsbundel te publiseer rondom die gevierde skrywer, kunstenaar, joernalis en wetenskaplike op die 85ste herdenking van sy dood.
“In gesprekke met die skrywer Jeanette Ferreira – wat as uitgewersredakteur die heruitgawe van sy Versamelde werke in 2013 geïnisieer en deurgevoer het – het haar entoesiasme my verder oortuig dat die projek lewensvatbaar is en ’n waardige bydrae tot sy nalatenskap sal wees,” sê Davis.