Met ‘Die SAW en Cuito Cuanavale’ vestig Leopold Scholtz hom as die voorste navorser oor die Grensoorlog waaroor teenstrydige herinneringe en opvattings steeds hoogty vier, skryf Abel Esterhuyse.
Die SAW en Cuito Cuanavale: ’n Taktiese en strategiese analise deur Leopold Scholtz. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R250.
Die Grensoorlog is ingeëts in die kollektiewe geheue van ’n groot deel van ’n ouerwordende geslag Suid-Afrikaners wat diensplig gedoen het. Die soms teenstrydige ervarings van en herinneringe aan die Grensoorlog, tesame met die sienings daaroor in die breër internasionale en Suid-Afrikaanse samelewing, lei dikwels daartoe dat die oorlog, in die woorde van die outeur, as’t ware op papier oorgeveg word (bl. 1).