“Ek weet nie wanneer ek weer gereed sal wees om ’n boek te skryf nie. Ek hoop eintlik nooit nie.”
Dit is hoe Marida Fitzpatrick voel nadat haar sielkundige riller Mara voltooi is en vandeesweek in winkels beskikbaar sal wees.
Sy vertel dramaties hoe ’n moeilike taak skryf is en dat sy sal “sterf” as sy dit voltyds moet doen. En tog is Mara haar vierde boek ná die liefdesverhaal Eksklusief uit Eden, die fiktiewe Iemand vir ’n scoop? en Die Staat vs. Oscar: 9 uur, 4 skote, 1 raaiseldood, wat spruit uit die hofsaak oor Oscar Pistorius en die skietdood van Reeva Steenkamp.