’n Goeie rubriekskrywer is soos ’n seismograaf, windmeter of dalk ’n geigerteller.
’n Rubriekskrywer begryp die tydsgees en vertolk dit namens getroue lesers. Die rubriek moet elke keer verras. Die aanslag moet uiteraard soos ’n duimafdruk wees wat die leser herken en die rubriekskrywer word ’n ou vertroude. Die koerant word oopgeslaan by dáárdie bydrae soos ’n perd wat outomaties stop by dieselfde watergat.
Deur die jare het Wilhelm Jordaan ’n hele geslag lesers bly bekoor. As voormalige professor in sielkunde en oudjoernalis bevat sy rubrieke die regte mengselvan geleerdheid en toeganklikheid. Die feit dat hy al soveel jare skryf, is bewys van sy belangrikheid en gewildheid as rubriekskrywer.