Soos Beacon se Liquorice Allsorts, by wyse van spreke, wissel die kleur en vorm van die bydraes in ‘Die mooie Jan en ander Afrikaanse kortverhale’. Rachelle Greeff meen die “storiekonstabels” kon heelwat van die nuwelinge se hebbelikhede voor publikasie uitgestryk het.
Die mooie Jan en ander Afrikaanse kortverhale, saamgestel deur Anine Vorster en Anita Stander. Uitgewer: Kwarts-Uitgewers. Prys: R180.
Die idee van dié versameling stories is “ ’n skryfgeleentheid?.?.?. om aan aspirantskrywers die kans te gee om die vreugde van publikasie te ervaar asook om ’n bydrae te lewer tot die bevordering en behoud van ons geliefde Afrikaans’’. Baie van die medewerkers het dit kort ná publikasie einde 2019 hopelik met “vreugde” onder die Kersboom vir geliefdes gesit.
As jy dus stories van nuwelingskrywers wil lees, is Die mooie Jan dalk ’n gesellige keuse. Saam met hom (die titelverhaal) kom nog 28 verhale waarin skrywers stories oorvertel of versin oor onder meer die bloederige klappe wat die lewe uitdeel. Maar die aanbod van heugelike verrassings en liefdeslus (wie sal nee sê vir “Tom Cruise se mooier boetie’’) is genoeg om die emosionele skaal van jou gemoed in balans te hou. Troos is nooit ver nie, soos Frau Kirsten ontdek toe sy teen Salzburg se Kapuzinerberg op stap.