Dit neem weke om Irma Joubert in die hande te kry. Die selfoonseine in die Krugerwildtuin is te swak vir ’n uitvoerige onderhoud en wanneer sy eindelik terug is in die beskawing, is sy so besig met boekpraatjies en onderhoude dat jy kwalik met ’n speld ’n leë tydjie tussen haar optredes kan raak druk.
Maar op pad Bosveld toe sal sy gesels wanneer hulle stop om bene te rek. So gesê, so gedaan.
Die telefoon het skaars ge-trieng, toe val sy met die deur in die huis. “Ek is só opgewonde. Na ’n plaas in Afrika was twee weke lank bo-aan die Nielsen-lys en het dus álle boeke uitgestof wat in Suid-Afrika verkoop word. Dis die beste wat enige van my boeke nog op die lys gevaar het.”