J.M. Coetzee, wenner van die Nobelprys vir letterkunde in 2003, en ’n ywerige leerling, met ’n kamera om die nek, aan die St. Joseph’s Marist College in Rondebosch in die 1950’s, vier môre sy tagtigste verjaarsdag. Melvyn Minnaar onthou 'n storie van lank gelede.
Hy woon al lank in Adelaide, Australië, maar is tans stil-stil in die land – in die stad waar hy in daardie eerste skrywersjare as lektor aan die Universiteit van Kaapstad klas gegee het.
Die laat 1970’s was die jare van sy eerste boeke – die begin van ’n loopbaan waarin hy letterkunde, die romankuns en outobiografie met ’n aweregse persoonlike aanslag tot groot internasionale roem sou karteer. Maar dit was ook die tydperk van afskuwelike politiek en morele absurditeite. (In sy eerste boeke weeg die krokante prosa en die disjunktiewe vertelling swaar aan hul eie paralipsis.)