Die skrywer S.J. Naudé het Woensdag in sy bedankingstoespraak vir die Hertzogprys prof. Hennie van Coller oor die vingers getik oor sy onlangse rubriek waarin hy homoseksualiteit in kinderboeke ’n “maatskaplike probleem” soos verkragting of molestering noem. Lees hier sy volledige toespraak.
Ek moet die Akademie eerstens bedank vir hierdie belangrike prys. As ’n mens na die lys van groot Afrikaanse skrywers kyk wat die Hertzogprys al gewen het, is ’n mens bly om ook ’n staanplek te kry in daardie ry. Prystoekennings behels, moet ’n mens erken, noodwendig ’n element van subjektiwiteit, en daar is ander skrywers wat die prys netsowel kon gewen het. Ek moet dus ook aan hulle erkenning gee. ’n Prys soos hierdie dien inderdaad ook as ’n nuttige aansporing. Dit kan nie ’n storie optower in ’n mens se onderbewuste nie, maar dit kan jou na jou lessenaar toe terugdryf, jou help om te gaan sit voor ’n leë bladsy.
Ek sou graag hierdie prys sonder voorbehoud wou vier. Ek het, moet ek noem, aanvanklik ’n ander dankwoord voorberei, een waarin ek ’n voorlesing doen uit ’n roman wat nog kom. Dit is wat ek eintlik graag sou wou doen, naamlik die fokus plaas op kreatiewe werk, waaraan daar reeds, te midde van die geruis van politieke diskoers, te min aandag gegee word. Ek voel jammer om daarvan afstand te doen en noodgedwonge te moet praat oor kwessies rondom inklusiwitieit en Afrikaans.