Die nege ontstellende, dikwels gewelddadige kortverhale in Brian Fredericks se ‘As die Cape Flats kon praat’ – vyf splinternuut en vier verwerkings van reeds gepubliseerde stories – is nie sonder gebreke nie, maar dit bevestig dat ’n mens beslis moet kennis neem van dié bundel en eiesoortige stem, skryf Frederick J. Botha.
As die Cape Flats kon praat: Green Eyes en ander stories deur Brian Fredericks. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R245.
Vir liefhebbers van die Afrikaanse kortverhaal is die naam Brian Fredericks nie onbekend nie. Hy debuteer in 2013 in die bundel Nuwe stories 2 en van sy verhale verskyn ook in Bly, die Woordfees-kortverhaalbundel van 2016, en in verlede jaar se Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk. Nou, uiteindelik, verskyn Fredericks se solobundel As die Cape Flats kon praat met vyf nuwe verhale asook nuwe weergawes van vier voorheen gepubliseerde verhale.