Voorspraak is Hendrik J. Botha, ’n narkotiseur van Pretoria, se tweede bundel. In 2015 debuteer Botha met Atropos, gedigte gebundel ná die afloop van ’n MA-graad in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Joan Hambidge. Atropos was in 2017 op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys en is deur Henning Snyman as “ ’n ware vonds vir die Afrikaanse digkuns” beskryf.
Op die buiteblad van Voorspraak pryk ’n besonderse lynskets van twee verweefde gesigte deur Anlerie Botha. Die kunswerk, saam met die titel van die bundel, voorspel ’n verkenning van medemenslikheid. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek bied “pleitbesorger” as sinoniem vir voorspraak. In die reg word voorspraak beskou as verdediging van ’n derde, ’n tipe in die bresse tree vir iemand na aan jou.
Die temas van die bundel handel inderdaad oor naastes; die digter se familie, pasiënte en plek-plek word die self ook beskou as ’n derde wat pleitbesorging verlang. Die openingsvers, “Apoptse” (bl. 1), bied insig in die raamwerk van die naastebeskouing wat volg: “Met die eerste asemteug begin ons sterf, / vir die dood geprogrammeer”. Deurlopend word die siklusse-proses van menswees, “so sterf ons daagliks stuk-stuk / ten einde te oorleef”, in oënskou geneem.