Op liefhebbers van Afrikaanse poësie wag daar ’n geil aanbod oor die volgende klomp maande
Reeds beskikbaar is Thomas Deacon se vierde digbundel, Duifiedorings, met eenvoudige, eerlike verse “tipies van ’n bepaalde samelewing en lewensruimte wat waarskynlik aan’t verdwyn is”. Volgens die uitgewer “kom die menslikheid en aardsheid skitterend na vore, en daarmee saam ’n eiesoortige lewensinstelling: lydsaamheid, geduld en meelewing met mekaar, maar ook ’n leefwyse as lewensgenieters te midde van ’n beskeie bestaan”. Uitgewer: Minimal Press. Prys: R165.
Kleinboer, skrywersnaam van die Johannesburgse romansier en teksredakteur Fanie de Villiers, debuteer einde vandeesmaand as digter met die bundel Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels. Volgens die uitgewer bevat dié verse “huislike toneeltjies (nie altyd vredig nie), bedenklike groenkrui-gedagtes, en geheueflitse na wilder jare”. Op Facebook beskryf De Villiers dit as “motpoësie, want die skryf van vlinderpoësie is buite my bereik” en voeg by: “Ná drie joernale, vermom as romans, verskyn opgetjopte prosa (ietwat in die styl van Charles Bukowski?), vermom as ’n digbundel. Hopelik kan die inhoud iemand iewers laat grynslag.” Uitgewer: Naledi. Prys: R240.