Negentig van Suid-Afrika se voorste kinderboekskrywers en -illustreerders neem deel aan die tweede SA Kinderliteratuurfees wat van 20 tot 22 Mei by die Heartlands-toevlugsoord vir babas in Somerset-Wes aangebied gaan word.
Marita van der Vyver, Cliffordene Norton, Fanie Viljoen asook die ma-en-dogterspan Zelda en Mia Bezuidenhout sowel as Anzil Kulsen tel onder die skrywers wat aan die literatuurfees deelneem.
Die program bestaan uit onderhoude met die skrywers en illustreerders asook boekbesprekings. Daar is ook tradisionele storievertellers aan die woord om klein en groot te vermaak. Die program duur daagliks van 10:00 tot 16:00.