Vyf nuwe niefiksietitels bied vars perspektiewe op die Suid-Afrikaanse geskiedenis en praktiese planne vir ons pandemievoos geldsake.
GESKIEDENIS
Die lieflike hardebandboek Herlewing: Transvaal en die grensgebiede in die naoorlogsjare, 1902–1910 is die vierde deel van Karel Schoeman se Imperiale somer-reeks. Hierin val die fokus op Marabastad, die separatistiese kerke, die opkoms van die Afrikaners in die naoorlogsjare, die emigrasie van wit mense na Oos-Afrika ná die oorlog, en die veldtog ten behoewe van die Indiërbevolking onder leiding van Gandhi. Schoeman kleur sy vertellings oudergewoonte met vele anekdotes en kameebeskrywings in. Volgens die uitgewer sal dié minder bekende tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie net vakkundiges boei nie, maar by ’n groot leespubliek aanklank vind.