Dié vyf nuwe Afrikaanse jeugromans beloof om jonger lesers vir ’n wyle aan iets anders as hul foon vasgenael te hou!
Zelda Bezuidenhout van Parys in die Vrystaat se grensverskuiwende nuwe jeugroman, Toe ons oneindig was, vertel die storie van ’n meisie wat nog altyd gedoen het wat van haar verwag word – totdat sy een middag in ’n aantrekhokkie vir die eerste keer gesoen word. Die uitgewer beskryf dit as ’n storie oor vriendskap en lojaliteit, seksualiteit en vloeibaarheid, maar bowenal die storie van ’n meisie op ’n selfontdekkingsreis. Uitgewer: Pan Macmillan. Prys: R210.
Met die vermaning “As jy wil wraak neem, moet jy twee grafte grawe” op die voorblad, weet jy sommer Fanie Viljoen se Donker web, die vervolg op Onderwêreld, gaan die teikengehoor van 14 jaar en ouer weer behoorlik laat naels kou. Greg Owen, voormalige hoofseun en kuberkraker van formaat, is nou ’n eerstejaarstudent op Stellenbosch. Sy ontmaskerde pa en Dok Pienaar is agter tralies, maar wie en waar is die Butcher? Uitgewer: Tafelberg. Prys: R250.