As die makabere Showmax- dokumentêre reeks Devilsdorp jou vasgenael gehou het voor die televisie, sal jy waarskynlik onmiddellik jou hande wil lê op die outobiografie van die held wat manalleen die berugte baasbrein agter die Krugersdorpmoorde, Cecilia Steyn, en haar vyf makkers vasgetrek het. In Op die duiwel se spoor onthul kapt. Ben “Bliksem” Booysen, in samewerking met die Sunday Times-joernalis Nicki Gules, skokkende besonderhede oor die polisie se onbeholpenheid en brouwerk asook nuwe, sensasionele inligting oor die moordenaars, hul misdade en hul lewe in die tronk. Ná ’n loopbaan van 40 jaar in die SAPD word Booysen, die seun van ’n mynwerker wat lief was vir die bottel en die vuis, steeds aangevuur deur sy verbete sin vir geregtigheid. Die amptelike publikasiedatum is 25 April.
Uitgewer: Melinda Ferguson Books. Prys: R280.
Marnus Hattingh, nasionale motorredakteur van Media24 se Afrikaanse koerante, debuteer einde vandeesmaand as romansier met Zanzibar Zen. Dit is weliswaar g’n tradisionele krimi nie, maar die aksie is volop en begin wanneer ’n nuuskierige toeris op sy dhow aan die kus van die eiland vermoor word, reg oorkant waar Giorgio Comaneti sy nuwe Zanzibar Zen Casino bou – ’n projek wat die helfte van die Jozani-woud – die laaste toevlug van die bedreigde Colobus-apie – gaan uitwis. Dié verwikkeling rus swaar op die skouers van die omgewingsjoernalis Toast le Roux, wat probeer om die stootskrapers betyds te keer terwyl die eiland se onafhanklikheidstromme al harder dreun.