’n Vierjarige se dapper stryd teen tipe 1-diabetes het ’n voormalige onderwyseres so geroer dat sy ’n kinderboek met ’n diabeteslyer as hoofkarakter geskryf het.
Lukas Leeu kry leeumoed (sic) deur Marilie van der Merwe is vermoedelik die eerste Afrikaanse kinderboek wat diabetes vir die jongspan op ’n toeganklike manier onder die loep neem, en daarmee ook vir onderwysers die kans gee om suikersiekte onder kinders met hul leerlinge te bespreek. Die boek, wat gemik is op vier- tot negejariges, is deur Kobus Galloway, skepper van Idees vol vrees, geïllustreer.
Van der Merwe, oorspronklik van Albertinia maar deesdae woonagtig op Clanwilliam, sê sy het meer as ’n jaar gelede op Facebook gevra watter onderwerpe ouers graag in kinderboeke sal wil sien.