’n Boek se titel is altyd ’n sleutel wat vir die leser aandui wat op haar wag.
Moer trek dadelik die aandag, want dit is ’n sterk woord in sowel klank (soos wat die beste vloekwoorde is) as betekenis. Die woordeboek sê dis ’n plat woord vir moeder of ma. Dit dui ook op geweld – hy moer haar; op woede – ek is die moer in; op ’n afsaksel of die droesem van iets – die moer onder in jou koffiebeker; op ’n haglike situasie – ek is in my moer in; en op ’n veragtelike mens – sy is ’n slegte moer (ma). Dis ’n sterk en evokatiewe titel.
Die foto van deftige skoene op die omslag is verwarrend, want dit “praat” nie met die titel nie. Die foto is ook ’n sleutel tot die storie, maar hierdie is die soort beeld wat ’n mens by romantiese of hedendaagse vrouefiksie verwag en dit sal nie so ’n titel hê nie. Aan die einde van die boek word dié beeld duidelik en maak dit sin. Nogtans wonder ek of die uitgewer hier nie ’n fout gemaak het en waarskynlik lesers gaan verloor nie.