Die Covid-19-pandemie het, soos in talle ander bedrywe, tot ’n bloedbad in die plaaslike boekbedryf gelei. Christiaan Boonzaier het met uitgewershoofde gesels, oor onder meer die pad vorentoe.
’n Verslag deur Nielsen BookScan SA (NBS-SA), wat sedert 2003 verkoopsyfers by algemene boekhandelaars en e-handelaars in Suid-Afrika versamel en ontleed, weerspieël ’n slagveld wat die plaaslike boekbedryf weens die staat van inperking getref het.
Die verslag, wat boekverkope in die eerste 27 weke van 2020 vergelyk met dieselfde tyd in 2017, 2018 en 2019 (sien grafiek 1 hieronder), toon onder meer dat verkope van meer as R909,8 miljoen verlede jaar tot sowat R693,5 miljoen vanjaar gekrimp het – ’n afname van meer as R216,3 miljoen.