Skadumagte is die opvolg van Malene Breytenbach se Bloedgrond (2011), wat gehandel het oor ’n wrede plaasaanval in Mpumalanga. Sers. Elsie Redelinghuys het intussen tot die rang van kolonel gevorder.
Wanneer regter PG Pienaar sterf in ’n sluipmoordaanval in sy huis, haas die Rapport-joernalis Mysie Spies haar na die toneel in Pretoria om ’n gulde scoopvir ’n voorbladberig te verseker. Met ’n neus vir nuus hou Mysie nie op snuffel nie, veral omdat die polisie nie juis vordering met die ondersoek na die moord maak nie.
Omdat die regter se jong weduwee in vrees lewe ná die aanval, aanvaar sy ’n ietwat vreemde aanbod om haar veiligheid te verseker.