Die digter en skrywer Thomas Deacon, wat Griekwa-Afrikaans verfyn het tot ’n “poëtiese medium in die Suid-Afrikaanse letterkunde”, is dood enkele weke nadat sy laaste digbundel einde verlede jaar gepubliseer is.
“Deacon, S.J. Pretorius en ook Hans du Plessis het gesorg dat Griekwa-Afrikaans deel word van die hoofstroom van ons letterkunde. Deacon se Die predikasies van Jakob Oerson (1993) is ’n hoogtepunt op hierdie gebied,” het die digter Daniel Hugo aan Netwerk24 gesê.
Deacon het ook die leemte aangevul wat George Weideman se afsterwe gelaat het, meen ’n vriend van Deacon, die digter en skrywer Johann Lodewyk Marais.