Die Covid-19-pandemie het die plaaslike boekbedryf se aandag op boekklubs gevestig, wat tydens die staat van inperking e-boeke onwettig versprei – en die bedryf van ’n broodnodige inkomste beroof. Christiaan Boonzaier het met rolspelers oor die kwessie gesels.
Die Kommissie van Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) het in ’n inligtingstuk sy stem dik gemaak oor sogenaamde “WhatsApp-boekklubs”, wat veral tydens die Covid-19-pandemie boeke onwettig op die kletsdiens versprei.
Volgens die inligtingstuk is dit een van die CIPC se doelwitte om eienaars van intellektuele eiendom in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf – soos uitgewers en skrywers – se regte te beskerm en enigiemand wat dié regte skend, vas te vat.