Aanhangers van Diana wat die ontslape prinses van Wallis se dood Dinsdag by die Kensington-paleis in Londen gaan herdenk, sal as ’n spesiale vergunning ook die nuwe standbeeld van haar kan sien.
Die paleis gaan die Cradle Walk om die gesonke tuin waar die standbeeld in Julie vanjaar onthul is, Dinsdag vir twee uur oopstel. Die roete om die gesonke tuin is tans net Woensdae tot Sondae tussen 10:00 en 17:45 oop.
Aanhangers stroom sedert Diana se dood op 31 Augustus 1997 op dié dag na die Kensington-paleis se hekke om blomme, baniere en sagte speelgoed (sy het as volwassene al haar sagte speelgoed op ’n bank in haar huis gehou) ter ere van die “koningin van harte” neer te lê. Diana het in die omstrede onderhoud met Martin Bashir van die BBC gesê sy sal graag eendag onthou wil word as die “koningin van harte”.