Die belemmering wat Covid-19 op verhoogproduksies het, is net so ’n aaklige verskynsel soos die suinige Scrooge voordat hy ’n kentering ondergaan. Maar gelukkig is daar tweede kanse.
Van die vertonings van A Christmas Carol – The Story of Scrooge in die eerste speelvak in Desember moes weens ’n Covid-19-geval in die Kaapstadse balletgeselskap uitgestel word. Daarvoor word egter dubbel en dwars vergoed met ’n tweede speelvak van 19 tot 22 Januarie in die Kunstekaap.
Die akteur Marcel Meyer was opgewonde toe hy ná sy eerste optrede in die ballet in 2019 ’n tweede kans kry om die ou knorpot Scrooge in die Charles Dickens-verhaal te vertolk, min wetende dat daar selfs ’n derde kans wag.