Platforms vir kontemporêre dans in Suid-Afrika het die afgelope paar jaar gekrimp. Toe kom die Covid-19-pandemie en daardie enkele platforms kry ’n finale nekslag.
Die Kaapse choreograaf Louise Coetzer van die Darkroom Contemporary Dance Theatre is daarom dankbaar dat sy ’n danswerk waaraan sy al bykans twee jaar werskaf, nou oplaas na die planke kan bring op die nuutgestigte Kucheza Afrika-dansfees.
Die dansfees sal in April vanjaar in die Staatsteater in Pretoria, die Playhouse in Durban en die Baxter-teater in Kaapstad aangebied word.