Die Kucheza Afrika-fees sit vanjaar nuwe kontemporêre dans in Suid-Afrika voort nadat die gewilde Dance Umbrella weens ’n gebrek aan finansies in 2018 tot ’n einde gekom het en sy opvolger, Dance Umbrella Afrika, net een fees kon aanbied voordat die koronaviruspandemie dit in die kiem gesmoor het.
Die nuwe fees sal danksy nuwe vennootskappe nie net tot die Staatsteater in Pretoria beperk wees nie, maar ook in die Playhouse in Durban en in die Baxter-teater in Kaapstad aangebied word. Nog goeie nuus is dat al die Suid-Afrikaanse werke op verhoë opgevoer word en internasionale produksies aanlyn aangebied word.
Volgens die artistieke direkteur, Aubrey Sekhabi, verbeeld die danse sosio-ekonomiese kwessies wat van individue tot lande oor die wêreld heen raak.