Die gasvryheidsbedryf en die uitvoerende kunste vorm ’n tweepas in ’n video waarin drie dansers van Joburg Ballet die doen en late van gaste in die luukse Leonardo-hotel in Sandton, Johannesburg, uitbeeld.
“Die sinergie tussen ballet en kuns en Leonardo (Da Vinci, die beroemde Italiaanse visuele kunstenaar) het dit die perfekte samewerking gemaak,” sê Robert Hodson, bedryfshoof van die Legacy-hotelgroep, waarvan die Leonardo-hotel deel is.
“In hierdie tye gaan dit moeilik, maar nou het ons darem iets wonderliks om oor te praat. Die hotel is rondom die idee van kuns gebou.”