Die Suid-Afrikaanse danser en choreograaf Mthuthuzeli November bring sy dansstuk Ingoma, waarmee hy die Laurence Olivier-prys in Londen gewen het, binnekort na Kaapstad. Hy het met Laetitia Pople gesels.
“Dankie, Suid-Afrika, Enkosi kakhulu.”
Dit is die woorde wat die danser en choreograaf Mthuthuzeli November saggies geprewel het toe sy naam as wenner van een van die gesogste teaterpryse uitgeroep is in die London Palladium in die West End-teaterdistrik in dié wêreldstad.