Terwyl alles en almal in die kunste dinge verklein, doen Niël Rademan dinge vanjaar groter. Die Hessequa Harmoniefees in Heidelberg (Kaap), wat hy vier jaar gelede met net ses aanbiedings begin het, gaan vanjaar vyf dae duur en 23 aanbiedings is op die program.
Van klassieke musiek en ’n solostuk met Sandra Prinsloo tot ’n jenewer-aand en ’n piekniekkonsert met Jak de Priester sal die dorp van 21 tot 25 September op sy kop keer.
Gevra hoe hy dit regkry om in hierdie onseker tyd so ’n indrukwekkende program op te stel, sê hy: “As die kunstebestuurder en kunstenaars iets vir die publiek wíl bied, sny ons die koek (geld) net in dun snytjies en dan hou ons partytjie.”