Die regisseur Marthinus Basson is aan die stuur van twee swaargewig-teaterstukke op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn.
Hy tel weer die regieleisels op van Pieter Fourie se Ek, Anna van Wyk, wat hy in 1999 suksesvol van die debuut op die KKNK na volgepakte landwye speelvakke gelei het. Dit het toe ook vele teaterpryse ingeoes. Toe was Antoinette Kellermann in die titelrol as Anna van Wyk. In die nuwe produksie vertolk Tinarie van Wyk Loots die rol van Anna, ’n vrou wat ’n persoonlike hellevaart van drankverslawing beleef teen die donker agtergrond van Suid-Afrika in die 1980’s. Dié spesiale heropvoering dien om die dramaturg Pieter Fourie, wat verlede jaar oorlede is, te huldig. Fourie was ook een van die stigterslede en eerste hoof van die KKNK, die oudste en moeder van die land se Afrikaanse kunstefeeste. Volgens Basson sou daar nie Afrikaanse teater in Suid-Afrika oor gewees het as dit nie vir mense soos Fourie was nie. Fourie het dramas soos onder meer Faan se Trein, Faan se Stasie, Die joiner, Die koggelaar en Mooi Maria neergepen en was ’n bewese kunste-administrateur.
Basson beskryf Anna as ’n klassieke stuk en hoewel dit praat oor “ ’n spesifieke tyd en plek – Suid Afrika in 1986 – handel dit veel meer oor menslikheid en menslike falings en behoeftes en dít red dit goddank van sogenaamde betrokke teater – ’n benaming waarvan ek nie veel hou nie”.