Dit is ’n droom wat elke jaar bewaarheid word. Droomkraan Kronieke – die tweede produksie in die voortgesette Karoo Kaarte-gemeenskapsprojek – debuteer op vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn.
Dit is ’n projek wat 100 inwoners van Oudtshoorn en omgewing betrek in ’n uitgebreide navorsingsonderneming om die geskiedenis en erfenis van die gebied in stories vas te lê en na die voorgrond te bring.
Daar is nie net ’n teaterproduksie (Droomkraan Kronieke) in die Johnny Bisschoff-saal wat bykans elke dag vir die duur van die fees op die planke is nie, daar is ook ’n uitstalling van visuele kuns, ’n selfoon-app wat feesgangers op ’n unieke rondleiding van die Karoodorp se besondere plekke neem en ’n kinderpublikasie, Spekskiet & tande tel. Dit is nie al nie, sê ’n trotse Neil Coppen, fasiliteerder van die projek saam met Vaughn Sadie.