Die verhaal is ’n universele een. Twee susters, wat beste maatjies was as kinders, word groot en stap elkeen haar eie pad. Die een, rusteloos en onvergenoeg, gaan weg. Die ander een bly agter en gaan voort met die lewe soos dit was. Êrens sal daar ’n herontmoeting kom, met die gepaardgaande konfrontasie.
Agulhasvlakte vertel die storie van Milly, wat blomme verkoop êrens op die Agulhasvlakte waar sy grootgeword het saam met haar suster, Amy. Amy, die wilde loot, het die grond van hul grootwordjare verlaat om die verleidelikhede van die stad te gaan verken.
Albei kry te doen met die uitdagings van die lewe wat hulle gekies het – Milly met die onvermydelike vooruitgang wat haar inkomste en haar geliefde veldblomme se voortbestaan bedreig; Amy met die onvoorspelbaarhede van die stadslewe, wat haar van die pad af gedwing het en haar met ’n brose psige laat.